'n Sekere groep mense gebruik 'n oormaat woorde om te keer dat hul aanhoorders te veel nadink, maar ek dink dat baie mense soveel woorde gebruik omdat hulle sélf nie nadink nie.
Die suksesvolle sakeman voer sy gesprekke op 'n gestruktureerde wyse. Sy spreekbeurte volg drie eenvoudige stappe:
1. Hy het iets om te sê.
2. Hy sê dit.
3. En dan hou hy op.
'n Sakemens wat al begin praat voor hy weet wat hy wil sê, en dan nog aanhou praat nadat hy dit klaar gesê het, word voor die hof gedaag en soos die regter dit behaag ook dikwels uit sy huis verjaag. Ek het nou wel ook 'n prokureur, maar hy kos my klaar 'n klomp geld, en daarom bly ek liewers weg van ander prokureurs.
Fluisterwoordjies vir die meisie by wie jy kuier of slimpraatjies laataand met jou vriende is aanvaarbaar, maar op kantoor moet jou gesprekke nie drentel soos 'n pater wat elke paar treë buk om blommetjies te bekyk nie. In besigheid is jou sinne juis die kórtste roete tussen punte. Hak af jou aanhef, knip af jou afsluiting, en draai jou briek aan voor jy "in die tweede plek" aankom. Om sondaars te bereik, moet jy juis kort preke gee, en bekeerdes slaan ook nie ag op lang relase nie. Met die juiste woord snoer jy gekskeerders én teëpraters die mond. 'n Toebroodjie ken jy aan dit wat tússen die snye sit (hoewel 'n lekseltjie botter aan weerskante nie onvanpas is vir iemand wat sy botter wil proe nie).
Onthou ook, dis makliker om intelligent te lýk as om intelligente dinge kwyt te raak. Hou jou ore oop en maak jou mond toe wanneer jy met iemand gesels. Om goed te kan luister, spreek boekdele oor jou sonder dat dit iets oor jou aan andere verklap. 'n Goeie luisteraar is soos 'n dagboek of 'n vertroueling -- vroeër of later kom hy alles te wete. Geld praat miskien hard, maar as geld se eienaar niks vir homself kan hou nie, steek dit mense dwars in die krop. Armoede praat ook hard, maar niemand wil hoor wat dit sê nie.